__________________________________________________________________

 

Reis na die middel

van die aarde

 

In die negentiende eeu het die Franse skrywer Jules Verne 'n fantasieboek oor 'n reis na die aarde se middelpunt geskryf. Hy het hom spelonke en gange voorgestel waarin sy helde kon neerdaal. Vandag se geoloδ sΩ egter daar is slegs grotte in die heel buitenste deel van die aardkors. Verder ondertoe is ons planeet een vaste of vloeiende massa en daarby is sy vurige ingewande gedurig aan die roer...

__________________________________________________________________

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

DAAR was 'n tyd toe die mensdom met die maan gepla was. Baie meer daarmee, in elk geval, as met die samestelling van die aarde reg onder hul voete. Die rede: dit was baie makliker om mense op die maan te laat land as om 'n gat te boor tot by die middel van die aarde. Trouens, dis vandag nog 'n heeltemal onbegonne taak.

 

Selfs die paar kilometers ondertoe wat ons al in ons diepste myne ingetonnel het, is nog bitter bolangs as 'n mens die grootte van die aarde in ag neem. Dis net "gaatjies" in die buitenste lagie van ons planeet, wat volgens geleerdes uit verskillende lae bestaan, byna soos 'n ui.

 

Die straal van die aarde, dit wil sΩ die afstand van die oppervlak na die middelpunt, is 'n hele 6371 kilometer. Die boonste "skil", wat ons die aardkors noem, is tussen vyf en sewentig kilometer dik en bestaan uit vaste silikaatgesteentes.

 

Onder die aardkors lΩ die sogenaamde aardmantel. Dit strek sowat 2900 kilometer ondertoe en bevat ook baie silikate, wat vanweδ die groot hitte in 'n plastiese, plooibare of sΩ maar taai-vloeibare toestand is.

 

Verder tot by die middelpunt lΩ die aardkern, waarvan die buitenste deel 'n gloeiend warm inferno van hoofsaaklik vloeiende yster is. Maar op 'n diepte van sowat 5100 kilometer stol selfs die yster onder die geweldige druk (omtrent 3,2 miljoen atmosfere!), met die gevolg dat die aarde 'n vaste bal in sy kern het.

 

Baie wetenskaplikes is dit eens dat daardie ronde binnekern uit soliede yster of yster-nikkel in 'n feitlik suiwer vorm bestaan -- 'n bal met 'n straal van meer as duisend kilometer en dus 'n deursnee van by die twee en 'n halwe duisend kilometer. Kon ons maar net 'n deeltjie van al daardie yster ontgin het!

 

ò   MAAR hoe weet ons dan al hierdie dinge as ons nie naastenby diep genoeg kan boor om te kyk wat daar binne aangaan nie? Navorsers het geleer om met instrumente die trillings te interpreteer wat deur aardbewings en voorheen kernontploffings veroorsaak is. Tog is selfs hul beste bevindings steeds net teorieδ en bly ons kennis oor die ware samestelling van die aarde waarskynlik taamlik onvolledig.

 

Dit lyk nietemin of die temperatuur ßl hoδr styg namate 'n mens die aardkors binnedring. Hierdie temperatuurstyging is nie dieselfde vir alle dele van die aarde nie. S≤ styg die temperatuur in Europa byvoorbeeld omtrent dertig grade Celsius vir elke kilometer, terwyl dit in Suid-Afrika slegs sowat nege grade Celsius per kilometer is.

 

Hoe warm is die aardkern eintlik? Party navorsers het al bespiegel dat dit enigiets tussen 3000 en 12 000 grade Celsius kan wees. Ander stel dit op 'n moontlike 4000 grade, met 'n speling van duisend grade na weerskante.

 

Hoe ook al, die aarde se ingewande is gedurig aan die roer. In die buitekern, reken geoloδ, is daar lewendige konveksiestrome deurdat die vloeibare yster van die superverhitte binnekern af opstyg en daarna neerdaal as dit kouer word -- net om weer  op te styg.

 

Hierdie eindelose kringloop het 'n dinamo-effek. Dit skep 'n magneetveld wat tot ver buite om die aarde strek. Die magneetveld help ons planeet beskerm teen vyandig gelaaide deeltjies wat die son vurig na ons toe uitwerp. Alles getuienis van die wonderlike harmonie in die skepping.

 

Benewens die strome in die buitekern, kom konveksiestrome ook in die aardmantel onder die aardkors voor, ofskoon hulle baie stadiger beweeg. Die gevolge is egter dramaties: aardbewings, vuurspuwende berge, selfs vastelande wat beweeg!

 

Die aardkors is nie alles in een stuk soos die buitekant van 'n tennisbal nie, maar bestaan in der waarheid uit verskillende plate, omdat die rotsagtige oppervlak plek-plek gebars het. 'n Mens kan aan die plate dink as reusagtige vlotte van ligter gesteentes wat op 'n see van sagter en digter gesteentes dryf.

 

Daar word selfs gereken dat die hele landmassa van die aarde eers in een vasteland verenig was. Hierdie oerkontinent, wat geleerdes die naam Pangaea gegee het, sou eers in twee vastelande, Laurasiδ (noord) en Gondwanaland (suid), verdeel het. Nog later sou hulle verder versplinter het om die kontinente te vorm soos ons hulle vandag ken.

 

'n Keer of wat sou van die magtige brokstukke egter weer in mekaar vasgedryf het, soos met Indiδ, wat glo eers nie 'n deel van Asiδ was nie, maar toe daarteen gebots het om die Himalajagebergte te laat ontstaan.

 

Die berugte San Andreas-breuk in Kaliforniδ, Amerika, is weer 'n plek waar die plate nie bots of van mekaar af wegdryf nie, maar bymekaar verbyskuur. Dit maak hierdie wΩrelddeel besonder kwesbaar vir aardbewings.

 

Wat eintlik by 'n aardbewing gebeur, is dat die aarde 'n tyd lank die spanning en samepersing weerstaan wat deur die bewegings binne-in hom uitgeoefen word. Dit is omdat die aardkors wel in sekere mate rekbaar is. Maar dan bereik dit die punt waar dit nie meer verder rek of plooi nie en skielik breek, of waar die verskillende dele meteens oormekaar skuif.

 

Kyk maar self wat gebeur as jy 'n effens buigbare stokkie neem en dit vinnig middeldeur breek. Die gebreekte punte sal agterna nog kortstondig in jou hande tril.

 

Word die aarde koeler in sy vurige maag of is daar maar gedurig kragte aan die werk (soos drukking of radioaktiwiteit) wat opnuut hitte opwek? Ook hieroor is geleerdes dit blykbaar nie eens nie.

 

En die ondersoekende mens, wat reken dat hy so baie weet, word alte dikwels maar weer deur die besef van sy beperkte kennis tot nederigheid gedwing. Slegs 'n klein, nee 'n piepklein deeltjie van die onpeilbare skepping is reeds deur hom ontsluit...

____________________________________________________________

 

Terug na inhoudsblad -- klik hier

____________________________________________________________

 

Ons Wonderlike WΩreld op CD, 2004 - Uit Huisgenoot se Jongspan