__________________________________________________________________

 

Insek-kaleidoskoop (4): Hoe insekte bou

 

Bouers en

grouers

 

'n Messelwesp hang aan die buisvormige ingang tot haar nes. Gebou van klei wat met speeksel bevog is, sal die nes haar eier teen roofvyande en die wind en weer beskut. Dit sal ook 'n spens wees met verlamde ruspers wat as kos sal dien vir die larwe wanneer hy uitbroei. Beslis 'n dienlike kinderbewaarplek. Lees nou nog vertellings oor ons wonderlike insekte se bouvernuf...

__________________________________________________________________

 

HUL enigste troffels en ander bougereedskap is diΘ waar¡mee hulle in die wΩreld gekom het: hul monddele en hul pote. Die boustowwe wat hulle nodig het, moet hulle uit hul omgewing bekom: grond, water, hout, hars en plantmateriaal.

 

Maar deur diΘ stowwe met hul eie sy, speeksel, was en mis te meng, sorg insekte vir sommige van die verstommendste ingenieursprestasies in die natuur -- geboue, onderaardse stede, kleihutte, paviljoene van sy.

 

Praat van torings, tonnels, tooisels en timmerasies -- insekte se skuiltes is selfs werklik bloudrukke vir die mens se ingewikkeldste strukture.

 

Kastele en katakombes

 

òáá IS daar 'n skouspelagtiger insekhuis as 'n termietnes? Hierdie grootse bouwerke wissel in grootte van omtrent diΘ van 'n mensekop (en gemaak van gekoude hout) tot enorme grondwerke wat hoδr as sewe meter in die lug intoring.

 

Hoewel die boutegnieke van soort tot soort verskil, is alle grondtermietneste in sekere opsigte dieselfde: die grond word deur verskeie uitskeidings saamgebind, gewoonlik speeksel, ontlastingstof en spesiale sekresies van die soldate; die buitemure is dik en meestal vol ventilasiegate; in die grond daaronder is gewoonlik 'n doolhof van gange en kamers, met die koninklike kamer, waar die koning, koningin en hul begeleiers is, in die middel.

 

In baie neste is swamme wat as voedselbron dien. Die swamme is ook lugreδlaars wat oortollige vog absorbeer en weer uitskei as die vogtigheidsgraad daal.

 

Plaaslike toestande be∩nvloed ook die vorms van termietneste. Die sambreelvormige pagode van die Afrikaanse reδnwoud het byvoorbeeld dakoorhange wat help om die baie reδnwater weg te voer.

 

Selfs boeiender is die groot hope van die kompastermiete, wat bra dun is ofskoon hulle tot ses meter hoog kan wees. In die dorre hart van Australiδ, met sy versengende son, bou hierdie termiete hul neste noord-suid sodat die versengende son in die middel van die dag slegs op die dun, skerp "rug" moet skyn, en soggens en smiddags wanneer dit koeler is teen die breδ, plat oppervlakke aan weerskante.

 

Kleibouers

 

òáá VAN die mees besondere kleituistes in die natuur word deur die groot familie van wespe gebou. Die pottebakker-wesp se kleineste is besonders. Versprei tussen die takkies van bome en die stingels van blomme, kan hul "erdekruikies" so delikaat gevorm wees dat dit lyk of hulle op 'n pottebakkerskyf ontstaan het. Die buitekant van die nes is grof, maar die binnekant glad gepleister. Elke kruikie bevat verlamde ruspers waarop die larwe later teer.

 

Grondverskuiwers

 

òáá 'N MENIGTE insekte soos kewers, krieke, termiete, wespe en miere bou hul neste ondergronds. Van al die grondverskuiwers is die miere verreweg die merkwaardigste. Party soorte se neste strek etlike honderde meters onder die grond. Die bogrondse hoop dien gewoonlik as 'n verlenging van die nes en verwarm dit deurdat dit deur die son verhit word.

 

Hoewel nie so indrukwekkend in omvang nie, is die uithollings van die mierleeu-larwe ewe vernuftig. Hy hol 'n tregtervormige kuil in sanderige grond uit deur spiraalsgewys agteruit te skuifel en die losgemaakte sandkorrels met sy kop uit te werp. Die kuil is so ontwerp dat niksvermoedende prooi-insekte daarin moet aftuimel tot in die larwe se kake.

 

Mobiele tuistes

 

òáá DRA-HUISE word deur talle insekte gebou, maar een van die fassinerendste is diΘ van die sakwurm-rusper. Die jong rusper se boustowwe is stukkies blare of gras, takkies, dorings of selfs klippies, wat hy met sydraad aanmekaar heg totdat sy hele lyf knus deur 'n sakkie bedek is.

 

Die rusper loop dan so al vretende met sy bewegende huisie rond. Namate hy groter word, vergroot hy ook die sak deur nog stowwe daarby te voeg. As die somer einde se kant toe staan, heg hy die sak aan 'n blaar of takkie vas en bring dan die winter in die sak deur.

 

In die lente word hy 'n papie waaruit 'n volwasse mot verskyn. Die mannetjies verlaat die sak, maar die vlerklose wyfies nooit nie. Paring vind deur 'n opening in die sak plaas, die wyfies lΩ hul eiers en gaan uiteindelik dood.

 

Die larwes van die meeste watermotte bou ook mobiele tuistes. Eers maak die larwe 'n basiese buis van sy. Afhangende van die soort, word stokkies, blare, skulpe of selfs sand dan vernuftig in die sy verseδl.

 

Spoedig is 'n silindervormige omhulsel geskep wat sy agterlyf bedek, maar sy kop en pote vry laat sodat die rusper in die water kan rondbeweeg en vreet. Hy verander binne-in die sak in 'n papie. Wanneer hy gereed is om as volwasse insek te verskyn, sny hy homself los uit sy beskermende tuiste en styg op na die wateroppervlak.

 

Stikkers

 

òáá Vindingryke huisbouers by uitstek -- dis 'n miersoort met die geleerde naam Oecophylla longinoda. Hulle bou hul merkwaardige neste van blare wat deur sydraad geheg word.

 

Met hul bokake en pote bring die werkers die kante van die blare bymekaar. As die gaping tussen twee blare te groot is, vorm die miere 'n ketting -- soms tot 'n dosyn miere lank -- om dit te oorbrug. Die blare word dan op hul plek gehou terwyl nog 'n groep werkers daar aankom wat elk 'n larwe in hul kake dra.

 

Die larwes, wat sydraad afskei. word so sig-sag heen en weer van blaar tot blaar gedra om dit aanmekaar te "stik" -- totdat daar uiteindelik 'n plaat van sy is wat die blare bind. As die nes klaar is, word die larwes in die nuwe nes gehuisves wat hulle self help skep het.

 

Kinderkamers van was

 

òáá DIE heuningby word van die vroegste tye af geroem om sy waskoeke waarin hy sy jonges grootmaak en sy heuning stoor.

 

Sosiale bye (waaronder die heuningbye) maak meestal heuningkoeke van was wat deur hul liggame uitgeskei word, hoewel sommige gebruik maak van 'n klewerige stof, genoem propolis (hars) van bome, om trekke toe te stop. Alleenloperbye, daarenteen, gebruik 'n verskeidenheid van materiale om hul neste te bou.

 

Die fynste afgewerkte koeke word deur heuningbye gebou. Elke koek bestaan uit netjiese rye van seskantige selle. Die seshoek is hier die voortreflikste ontwerp, want die selle word versterk deurdat hulle deur soveel buurselle begrens word. Die grootste moontlike bergruimte word ook met die minste hoeveelheid was verkry. Dit is 'n wonderlike voorbeeld van die natuur se spaarsaamheid.

 

In die vrye natuur bou heuningbye hul heuningkoeke in hol boomstamme of in rotsskeure.

 

Papierkunstenaars

 

òáá WONDERLIK fyn afgewerk is die papierneste van sekere wespsoorte. Die wespe maak self die papier van houtvesels wat hulle met hul kake van bome, heinings, plantstingels en ander voorwerpe afskraap. Die hout word deeglik gekou en met 'n speekselagtige uitskeiding vermeng om 'n soort papierpap te vorm wat tot 'n ferm, grys papier verdroog.

 

Van die bekendste papierneste behoort tot die sosiale wespe. Perdebyneste word dikwels gesien waar hulle aan dakoorhange of 'n boomtak hang.

 

Party miersoorte bou neste van 'n sterk soort papier, baie net soos die neste van wespe, met die verskil dat baie van hulle nie die meetkundige presisie van die papierselle van die perdebynes het nie.

 

Kerwers en delwers

 

òáá TALLOSE kewers, bye, termiete, wespe en ander insekte boor, tonnel of kerf hul neste of kinderbewaarplase in die stamme van bome, dooie takke en mensgemaakte strukture van hout. Elk het sy eie kenmer¡kende tonnelpatroon.

 

Die larwes van sekere insekte -- motte, vlieδ en kewers -- maak weer hul tuistes op blaaroppervlakke. Hierdie blaardelwers teer op die voedsame selle van die blare en kerf in die proses dikwels mooi patroontjies daaruit. Dit kan onreδlmatig wees, as hy min of meer staties bly, of delikate kronkeldraaie maak soos hy vreet-vreet rondbeweeg.

 

Gogga-gedoentes

 

òáá Die kampioen-grondverskuiwer is 'n soort mier van Noord-Afri¡ka. Daar is al waargeneem hoe sulke miere oor 'n tydperk van honderd dae meer as 'n ton grond verskuif het.

òáá Die bekoorlike klein molkriekie bou spesiale sanghole om sy klanke te versterk. Die bek van die tonnel gaan op die grondop¡pervlak uit en stem ooreen met 'n luidspreker. Die mannetjie laat sy paringsliedere wyd en syd hoor.

òáá Party termietneste is so stewig dat dinamiet nodig is om hulle weg te blaas as 'n stuk land skoongemaak moet word.

 

__________________________________________________________

 

Terug na inhoudsblad -- klik hier

__________________________________________________________

 

Ons Wonderlike WΩreld op CD, 2004 - Uit Huisgenoot se Jongspan