____________________________________________________

 

Reptiele

-- die lewende drake

 

Hulle vorm een van die boeiendste klasse van die kreature op aarde: die "draakagtige" diere wat die reptiele genoem word. Daar is vandag vier groepe lewende reptiele, naamlik die krokodil-familie; land- en waterskilpaaie; akkedisse en slange; en die tuatara, van 'n paar eilandjies naby Nieu-Seeland, wat die enigste lewende lid is van die orde waartoe hy behoort. Reptiele kan werklik drakonies lyk, maar is dikwels heeltemal onskadelik. Ons moet hulle dus nie voor die voet verdelg nie. Ons oorblywende reptiele het inderdaad beskerming nodig, want hulle is die karige oorblyfsels van 'n eens baie magtige ryk...


òáá Kyk ook dinosourusse en pterosourusse by "Kort begrip".

____________________________________________________

 

VAN die reptiele wat tot in ons tyd kon oorleef, vorm die akkedisse (3000 spesies) en slange (2700 spesies) verreweg die grootste groep. Die ander was nie altyd so skaars nie; fossiele het behoue gebly van minstens 108 spesies van die krokodilagtiges (23 oorlewende spesies), terwyl die groep waartoe die eensame tuatara behoort, het in die verlede ook meer wydverspreid voorgekom het. Daar is sowat 200 skilpadspesies.

 

Akkedisse is koue bloedneefs van die slange -- kyk dan net so na 'n likkewaan se gevurkte tong, dis mos pure slang s'n! Van die akkedisse, wat oor die wΩreld heen in baie verskillende vorms en groottes voorkom, word sewe verskillende families in Suid-Afrika aangetref: die tipiese akkedisse, geitjie-familie, koggelmanders, verkleurmannetjies, skinke of ''gladde akkedisse'', skurwejantjies en likkewane.

 

Die grootste reptiel op aarde is die brakwater- of soutwaterkrokodil. Hy raak in die reδl so 5 m lank, maar enkelinge van tot 8 m is al opgeteken. DiΘ aggressiewe kalant word van Suid-Indiδ af tot by Noord-Australiδ aangetref. Die kleinste reptiel ter wΩreld is die Britse-Maagde-eiland-geitjie, wat dikwels niks langer as 18 mm is nie.

 

Skilpaaie is reptiele met kort, breδ liggame, wat in 'n benerige dop gehul is. Die been van die dop is gewoonlik met horingagtige plate bedek of, minder algemeen, met 'n leeragtige huid.

 

Die skilpaaie wat ons in Suid-Afrika die beste ken, is die landskilpaaie...á daardie trae harmansdruppe wat jy soms deur die stof kan sien slof in die dorre veld. Maar dan is daar mos ook die waterskilpaaie van die vars water wat webpote met kloue het. En die seeskilpaaie, wat doer agter die branders woon, met hul swempote.

 

Slange is pootlose reptiele met lang, slanke liggame. Die stuk of 160 slangsoorte van Suider-Afrika word erg bedreig deur die mense se vrees vir diΘ gebroedsels, hoewel baie van hulle heeltemal onskadelik is en selfs baie nuttig kan wees deur byvoorbeeld muise te vang. Interessant: slange het nie ooglede nie en maak nooit hul oδ toe nie.

 

Die krokodilagtiges word in drie families ingedeel: die krokodille, die gawiale ená die alligators, wat die kaaimanne insluit. Van die 23 lewende spesies van die krokodilagtiges, kom slegs een in Suider-Afrika voor, naamlik die Nylkrokodil.

 

Benewens 'n paar klein akkedissoorte is die krokodil, so word vertel, die enigste reptiel wat werklik 'n stem het. Sy harde, grillerige gromgeluid klink soos veraf donderweer of die roffel op 'n tamboer.

 

Baie reptiele se beendere hou nie op met groei wanneer hulle volwasse is nie, wat beteken dat party van hulle hul hele lewe lank sal aanhou groei. As 'n reptiel die daaglikse gevare van die lewe kan oorleef, kan hy selfs reusagtig groot word. Dit is veral waar van luislange, krokodille en die skilpadreuse, hoewel die kleiner akkedisse en skilpaaie normaalweg wel ophou groei.

 

Wanneer hulle oud is, verloor die meeste reptiele nie hul tande soos by soogdiere gebeur nie, maar hulle hou aan wissel en kry dan nuwes.

 

Maar hoe lyk reptiele inwendig? Ook hier is groot verskille tussen die verskillende soorte. Die slukderm van 'n slang is byvoorbeeld tot 'n derde die lengte van sy lyf. Dit lei na 'n lang maag wat, soos die slukderm, kan rek as groot voorwerpe ingesluk word. Die ander organe is ook lank, en hulle pas die een agter die ander in.

 

Anders as by 'n slang, is die binnekant van 'n akkedis weer heel simmetries. Baie akkedisse het ook hoogs gespesialiseerde geraamtes. Die verkleurmannetjie, byvoorbeeld, is uitgeknip vir sy lewe in die bome en bosse. Die liggaam is breed, wat groter stabiliteit bied wanneer die dier se gewig op 'n smal takkie rus. Die vingers en tone is ontwerp om vas te gryp, spesiaal gegroepeer met drie tone aan die buitekant en twee aan die binnekant van die voet, en andersom aan die hand. Met die grypstert word ook deeglik vasgeklou.

 

Die kaaiman het 'n lang skedel, met hooggeleδ oogholtes en neusgate, sodat die dier kan dryf met net sy neus en oδ wat bokant die water uitsteek. Sy lyf is eweneens lank, met twee paar bra kort pote en vyf tone aan die voorpote en net vier agter. Die tone aan al die pote is deels met swemvliese toegerus. Die bo-kaak van die kaaiman, soos by al die ander lede van die krokodil-familie, is feitlik soliede been.

 

Die skedel van 'n skilpad is baie anders as diΘ van ander reptiele. Geen anderá werweldier het ook 'n pantser wat heeltemal soos diΘ van die skilpaddop lyk nie. Die dop isá eintlik tweeledig, met 'n buitelaag van horingagtige skilde en 'n binnelaag van been. Baie van die skilpad se beendere en die meeste van die ribbes is in die dop versmelt. Die skilpad se nek is lank en beweeglik, sodat die kop wanneer nodig vir beskerming ingetrek kan word.

 

'n Slang se rugstring is baie buigbaar. Sy kronkelings en slingerdraaie om voort te beweeg sou kwalik moontlik gewees het sonder 'n sterk rug en kragtige rompspiere. Party van die kleiner slange het 180 werwels langs die rugstring af, terwyl die langer soorte tot 400 het. Die werwels self is ook sterk om die spanning en druk te verduur wat die spiere op hulle plaas.

ááááááááááá

Die bo- en onderkaak in die slang se skedel is losweg met mekaar en met die harsingkas verbind, wat die bek merkwaardig rekbaar maak.

 

____________________________________________________

 

Terug na inhoudsblad -- klik hier

____________________________________________________

 

Ons Wonderlike WΩreld op CD, 2004 - Uit Huisgenoot se Jongspan